English
Version
Nuus Boere
musiek
Die
Klub
Biografie Leer
Speel
Handels
ware
Skakels Soek Kontak
Bewaar - Behou - Uitbou
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly
Orkeste
Musikante
Instansies
 
 
 
 

Petrus Jacobus

(Oom Pietie) le Roux

[17 Oktober 1882 - 29 Januarie 1980]

deur Charles Fensham

In 1983 het die Universiteit van Stellenbosch oudlede van Oom Pietie se boerorkes op Stellenbosch saamgetrek om Oom Pietie se 101e geboortedag te herdenk. Die lede het hoofsaaklik uit die Boland gekom, maar daar was 'n groot verskeidenheid mense wat van 1933 tot 1956 in sy orkes gespeel het. As 'n mens so oor die oudlede gekyk het, het jy gemerk dat party se koppe bewe. Die jare het sommige begin inhaal. Maar hulle was daar, getrou aan Oom Pietie tot lank ná sy dood. Dit is die soort gesindheid wat hy by sy orkeslede gewek het.

Petrus Jacobus le Roux is op 17 Oktober 1882 op Moorreesburg gebore, maar het vroeg in sy lewe na Stellenbosch versit waar hy die res van sy lewe gewoon het. Op Stellenbosch het hy 'n vennoot geword in 'n algemene handelsaak. In hierdie werk het Oom Pietie se kunstenaarsin te voorskyn getree. Ou inwoners van Stellenbosch praat nou nog van die kunstige vensterversierings wat hy geskep het. Maar Oom Pietie was van vroeg af 'n sieklike man en hy het in 1928 besluit om af te tree.

Hy kon egter nie stilsit nie. In die jare 1929-1930 het die vrouetak van die Nasionale Party op Stellenbosch navraag gedoen na 'n klein orkessie om die party se byeenkomste op te kikker. Oom Pietie het voorgestel dat dit 'n Boereorkes moet wees en het een op die been gebring. Die orkes het uit twaalf lede bestaan, en dit het in 1933 met groter getalle gegroei tot die Stellenbosch-Boerokes.. Dit het die hoofwerksaamheid van sy lewe geword. Oom Pietie het die rype ouderdom van sewe en negentig jaar bereik. Hy is op 29 Januarie 1980 oorlede. Dit sê veel vir boeremusiek dat iemand wat op die ouderdom van ses en veertig jaar weens swak gesondheid afgetree het, na jarelange beoefening van boeremusiek toe so 'n hoe ouderdom bereik het.

Die eerste groep wat gaan toer het, het in die moeilike jare 1933-34 opgetree. Na 'n besoek aan Porterville en Malmesbury kon hulle net 'n wins van 8c wys. Hierdie orkes het uit sewentien lede bestaan met Oom Pietie ingesluit wat die saag gespeel het. In die orkes was ook 'n konsertinaspeler, Fanie Cloete met sy boerekonsertina.

Oom Pietie het van die begin af vir die werwing van lede onder die studente van Stellenbosch inbeweeg, maar sy orkes het nie net uit studente bestaan nie. Dikwels is daar ook van ouer en ervare musikante gebruik gemaak. Met die laaste toer in 1955-56 het 'n hele paar onderwysers wat vroeër as studente in die orkes was, die toer na die Noordweste meegemaak. En daar was ook teenwoordig 'n pensioenaris, oom Morgan O'Kennedy wat sy ses-ry Wheatstone, spesiaal in Engeland vir hom vervaardig, laat brul het soos 'n orrel, en skrywer hiervan wat toe al dosent aan die Universiteit van Stellenbosch was. Oom Pietie het ook van talentvolle jong skoolseuns gebruik gemaak. In sy eerste en tweede orkes was dit Bruckner de Villiers eers met die banjo en later met die viool. Later het klein Albert Koen konsertina gespeel en Abré Marais banjo en konsertina. Hoewel daar 'n mate van keuring van orkeslede was, want 'n lid moes minstens 'n instrument kon bespeel, het Oom Pietie man en muis in sy orkes verwelkom. Party van die lede het net die grondbeginsels van 'n instrument onder die knie gehad. So was daar kitaarspelers wat net in G, C, F en D kon speel. Maar Oom Pietie het hom nie toegelê op ingewikkelde musiek nie. Dit het hoofsaaklik gegaan oor eenvoudige Boeremelodieë soos Sarie Marais, Suikerbossie, Bobbejaan klim die Berg, 0 moenie huil nie, Coetzenburg, ensovoort.

In die maande voor die orkes op toer gegaan het, is die spelers afgerig en is daar 'n mate van variasie in die melodieë ingebring. So byvoorbeeld, is Sarie Marais as openings item in F eers as 'n wals gespeel, dan in 'n stadige maat as 'n settees en uiteindelik in 'n vinnige ritme as 'n vastrap. Oom Pietie het daarvan gehou om in die orkes van konsertinaspelers gebruik te maak. Gedurende 'n konsert is hulle ook vir konsertinasolos gebruik. 'n Hele aantal uitstekende konsertinaspelers was lede van sy orkes, o.a. oom Jan Visser wat met sy pragtige Stellenbosse Verlange voete aan die roer gesit het, oom Gert Marais, Klaas Russouw, oom Morgan O'Kennedy en Piet Geldenhuys. Nou ja, so 'n orkes het 'n groot verskiedenheid instrumente gehad soos 'n klavier, kitare, banjo's, ukeleles, baskitaar, viole, trekklaviere, kornet wat deur Con Hofmeyr onvergeetlik gehanteer is, mondfluitjies en die saag.

Hoewel die groot orkes die hoofdis van die aand was, het Oom Pietie daarvan gehou om 'n goedbeplande verskeidenheidskonsert aan te bied waarin studentehumor 'n belangrike rol gespeel het. Hier kan genoem word Oom Kaspaas en Nefie waarin Oom Kaspaas so 'n kort solo op die konsertina speel. Nou ja, dit was so dat 'n goeie konsertinaspeler nie altyd 'n goeie Oom Kaspaas kon uitmaak nie. Dan is een van die studente gevat en 'n stukkie op die konsertina geleer om die rol te vervul. Een van die onvergeetlike Oom Kaspaase was Sakkie van Biljon, nou professor aan die Universiteit van Stellenbosch, wat so 'n skommelstuk op die konsertina vervolmaak het. Die konsert is ook afgewissel met sangsolos. Sangers soos Willie en Josua Serfontein het opgetree. Skrywer hiervan het met die toer van 1956 'n paar Schubert-liedere gesing. Dan was daar vioolsolos, konsertinasolos, saagsolos, ens. Een van die uitstaande kenmerke van die orkes was die jeugdige entoesiasme en vreugde wat te voorskyn getree het. Oom Pietie met sy vrou tant Hester, het streng dissipline op toere gehandhaaf en dit het nie altyd maklik gegaan met 'n hele handvollewenslustige studente nie. Daar is geen drank op toer toegelaat nie en die mans en die meisies is veral op treine goed van mekaar geskei. Ten spyte daarvan het heelwat orkeslede hulle wederhelftes op toer ontmoet.

Oom Pietie was 'n uitstekende organiseerder. En daar is baie organisasiewerk aan 'n toer. Aanvanklik het Oom Pietie self al die organisering gedoen. Later het hy van sy sekretaresse gebruik gemaak. Dikwels is die hele roete per motor vooraf afgelê om seker
te maak van 'n saal en losies vir die toerlede. En 'n saal was nie altyd beskikbaar nie. Dan moes 'n ander plan gemaak word, soos op Lambertsbaai waar in 'n visskuur konsert gehou is met 'n verhoog gebou van kiste met vis - en die reuk was die aand nie te waffers nie. So het Oom Pietie en sy orkes groot dele van Kaapland deurkruis, die Vrystaat, Transvaal en Natal besoek en 'n hele paar keer in Suidwes 'n draai gaan gooi. By spesiale geleenthede was die orkes in aanvraag. Hoogtepunt het die eeufeesjaar van die Ossewatrek van 1938, die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en die Van Riebeeckfees van 1952 gevorm. Wat so mooi was van die orkes, is dat ook klein plekkies nie verbygegaan is nie.

Nadat die laaste toer in 1956 onderneem is, het daar by verskeie geleenthede reünies plaasgevind. So is daar 'n orkes van oudlede op die been gebring vir die Uniefees van 1960. En dit was duidelik dat Oom Pietie en sy orkes niks van hul vaardigheid verloor het nie. In 1966 met die 100-jarigefees van die Universiteit van Stellenbosch was dit weer so. Dit staan my helder voor die gees hoe die aand in 1966 in 'n stampvol stadsaal, prof Con de Villiers op die einde op die been gekom en met sy growwe stem uitgeroep het: "Bravo!" Dit was die laaste optrede van die orkes.

Wat is met die geld wat ingesamel is, gedoen? Op selfopofferende wyse het Oom Pietie groot bedrae vir goeie sake soos die Reddingsdaadbond, Voortrekkermonumentfonds, die Universiteit van Stellenbosch en ander laat toekom. 'n Bedrag van oor die Rl00 000 is uiteindelik ingesamel. In terme van die waarde van geld vandag is dit 'n aansienlike som. Maar het dit net gegaan oor die insameling van geld vir 'n goeie saak? Nee, beslis nie. Dit het vir Oom Pietie gegaan oor die aanwakkering van 'n gevoel vir ons volksmusiek by ons mense. Talle studente wat vandag belangrike poste beklee, het geleer om hulle eie musiek te waardeer en te geniet. Verder het tienduisende mense oor ons hele land konserte bygewoon en in vervoering gekom oor melodieë wat in sommige kringe verag is. Dit is Oom Pietie se kosbare erfenis vir die Afrikanervolk.