English
Version
Nuus Boere
musiek
Die
Klub
Biografie Leer
Speel
Handels
ware
Skakels Soek Kontak
Bewaar - Behou - Uitbou
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly
Orkeste
Musikante
Instansies
 
 
 
 

Robert Richard (Bobby)
Pennells

[21 Desember 1912 - xxx]

Op 18 Augustus 1985, het Piet Bester die eer gehad om met Bobby Pennells te gesels. Dit was algemeen aanvaar dat al die lede van die Vyf Dagbrekers reeds oorlede is. Bobby is egter springlewendig vir sy byna drie en sewentig jaar! Hy lyk beslis nie 'n dag ouer as sestig nie.


Piet Bester (links) en Bobby Pennells (regs)
[foto kopiereg voorbehou]

Robert Richard Pennells is op 21 Desember 1912, in Sussex, Engeland gebore en het op vierjarige ouderdom saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis. Sy vader, 'n smid, het hom eers op Aliwal-Noord gevestig maar het later na Johannesburg verhuis waar klein Bobby grootgeword en vir Silver ontmoet het. Hulle was vir jare huisvriende.

Bobby het sy eerste banjo met 'n lotery gewen. Hy het homself geleer speel, maar sê ook sommer dadelik dat Silver de Lange hom die meeste gehelp het. Hy word werklik liries wanneer hy oor Silver begin, gesels. Hy sê dat hierdie man vandagse konsertinaspelers ook onder die stof sou kon speel! Hy deel verder mee dat Silver 'n perfeksionis was. As 'n kitaar of banjo nie suiwer ingestel was nie kon hy baie moeilik word, en as 'n speler verkeerde akkoorde speel, of tyd verloor, het hy sommer sy konsertina toegevou en 'n draai gaan loop. Hy het graag sy manne met raad en daad bygestaan, maar dan moes hulle werklik probeer het om net hulle beste te lewer. Hy het nie van brouwerk of 'n afskepery gehou nie. Net die beste was goed genoeg vir hom. As hy lekker gespeel het, was sy oë altyd toe en 'n groot glimlag het op sy gesig verskyn. Die manne het dan geweet dat hy tevrede was met hulle begeleiding.

Hy en sy broer Gert was kundige mense en het ook 'n kitaar eiehandig gebou, waarmee hulle lank gespeel het. Bobby, 'n meubelmaker van beroep, het nog destyds die hout vir die kitaar vir hulle gegee. Silver was nooit getroud nie en het met musieklesse sy daaglikse brood verdien. Musiek was feitlik die alfa en omega van sy lewenspatroon. Bobby het ook op sy dag saam met oorsese orkeste gespeel, maar sê dan dadelik dat hy nog nooit 'n musikant soos Silver ontmoet het nie.

Alhoewel Bobby 'n vermoende man is, het hy tot 'n hoë ouderdom as 'n meubelontwerper in Johannesburg gewerk. Hy was steeds baie vaardig met die banjo en die trotse besitter van 'n Vega. Hierdie soort banjo is van die beste wat 'n mens kan kry. Op 'n vraag of hy ooit daarvan ontslae sal raak, het hy geantwoord: "Not for all the tea in China".

Hy sê dat hy vandag nog trots is op die feit dat Hans, hulle het Silver so genoem, altyd vir hom gese het dat hy nog eendag 'n "top musikant" met die banjo sou word! U sal nog onthou dat daar 'n dispuut was oor die foto op die omslae van die heropgeneemde plate van Silver. Sommige mense het beweer dat dit nie sy foto is wat op die omslae verskyn nie. Ek het die plaat aan Bobby gegee en die groot vraag gestel? Hy het lank en stip na die foto gekyk, 'n veraf blik in sy oe gekry en toe geantwoord: "Dis Silver, man, dis net hy! Sal ek dan ooit daardie glimlag van hom kan vergeet?"

Bobby het natuurlik die ander spelers van daardie jare ook goed geken. Hy sê dat hy baie maal saam met Faan Harris, Hans Bodenstein en Boet Steyn opgetree het. Vir Chris Blignaut het hy ook baie goed geken en het 'n hoe dunk van hom.