English
Version
Nuus Boere
musiek
Die
Klub
Biografie Leer
Speel
Handels
ware
Skakels Soek Kontak
Bewaar - Behou - Uitbou
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly
Orkeste
Musikante
Instansies
 
 
 
 
Die Vier Springbokke

Die opnames van die Vier Springbokke wat by His Master's Voice opgeneem is, het met reeksnommer 1 begin. Die ander orkeste wat by dieselfde maatskappy opnames gemaak het se plate se reeksnommers is groter en daarom kan dit aangeneem word dat hulle plate eerste uitgegee is.

Die Vier Springbokke het uit die volgende spelers bestaan:

Petrus Marthinus (Pietie) Prinsloo (leier) : Konsertina
George Breval (mede-leier) : Klavier
Henry Rex : Kitaar
Bossie Bosman : Bas


Alhoewel al die plate van hierdie groep nog opgespoor kon word, kon daar aanvanklik geen besonderhede van die spelers bekom nie. Na 'n hele paar jaar se navrae het Piet Bester gelukkig meneer J.P. (Koos) Ronge, 'n boer naby Gravelotte in die Noord-Transvaal, opgespoor wat baie inligting kon gee. Ons bedank Koos en sy gawe eggenote vir al die vriendelikheid en gasvryheid, want dit was aangenaam om hulle te besoek.

Oom Pietie is in Johannesburg gebore waar sy vader in die destydse polisiemag gedien het. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het sy vader oorlog toe gegaan en klein Pietie het saam met die ander kinders, Hendrik en Johanna, by hulle moeder agtergebly. Na afloop van die oorlog toe Pietie se vader by die huis kom, ontdek hy dat daar groot "fout" is. Hy was so kwaad omdat iemand inbreuk op sy huislike lewe gemaak het - en dit nogal 'n Tommie - dat hy al die meubels uitgedra en aan die brand gesteek het! Hy het sy persoonlike goedjies gevat en getrek! Hy het toe 'n wa en span donkies aangeskaf en karweiwerk gedoen tussen Pilansberg en Pretoria en ook tussen Stinkwater en Pretoria. Hy het meestal vuurmaakhout aangery en so 'n bestaan gemaak.

Pietie was baie lief vir sy vader en het hom gewoonlik gedurende skoolvakansies met 'n fiets gaan besoek vanaf Johannesburg. Dis gedurende hierdie besoeke van Pietie aan sy vader dat hy vir Faan Harris, wat ook op 'n stadium karweiwerk vanaf Louis Trichardt se wêreld na die Rand onderneem het, ontmoet het. Koos sê dat Pietie belanggestel het in die konsertina en dat Faan horn touwys gemaak het! Wat 'n wonderlike voorreg wat hy gehad het!

Na skool het Pietie hom as 'n timmerman bekwaam en het hy by 'n myn in Johannesburg gaan werk, maar nie van die idee gehou om heeldag ondergronds te wees nie. Hy het na ongeveer 'n jaar bedank en by Johannesburg se tremdiente gaan werk as 'n kondukteur. Dis hier waar hy sy groot vriend, Henry Rex, raakgeloop het. Henry was 'n uitstekende musikant en sy kitaarspel was onverbeterlik. Gou het hy en Pietie lekker saamgespeel. Hulle het vir George Breval ontmoet wat die klavier meesterlik kon tokkel en die gort was gaar! Een van ons mees uitstaande boereorkeste het tot stand gekom.

Pietie en Henry het later saam bedank en met hulle gratifikasie die plaas "Verloren", naby Tuinplaas in die Noord-Transvaal, gekoop. Hulle het ongeveer 'n jaar lank saam geboer toe Henry weer terug is munisipaliteit toe waar hy tot en met sy aftrede, gewerk het. Pietie se enigste suster, Johanna, was eers met 'n Coetzee getroud maar nadat die huwelik beeindig is, het sy met Henry getrou. Uit die huwelik is geen kinders gebore nie. Pietie het op die plaas gebly aangesien hy altyd die begeerte had om te boer.

Koos het vir Pietie in 1937 goed leer ken aangesien hulle 'n tyd lank op dieselfde plaas gebly het. Koos het ook dikwels saam met Pietie, Henry en George opgetree by troues en ander funksies. Een van Koos en sy vrou se aangename herinneringe is die feit dat Oom
Pietie, soos hy genoem is, op hulle bruilof gespeel het. Koos het 'n ou banjo aan oom Piet Bester geskenk waarmee hy dikwels saam met Oom Pietie gespeel het. (Ai, hoe wens ek tog dat daardie ou banjo kon praat!) Oom Pietie het ook vir Koos leer kitaar speel.

Oom Pietie was 'n handige man en het dikwels Koos en die ander bure se hare gesny. Hy was glo 'n baie stil en ingetoë soort mens. Hy het baie van rugby en boks gehou en as hy nie wedstryde of gevegte kon bywoon nie, het hy altyd gretig uitgesien na 'n radio- kommentaar daarvan.

Oom Pietie was 'n ware patriot en baie lief vir sy volk en vaderland. Alhoewel hy 'n stil mens was, was hy 'n groot nasionalis en kon enige mens maklik invlieg as hy gevoel het dat sy politiek, volk of kultuur beledig is.

Oom Pietie het na vele jare op die plaas sy grond verkoop en drie woonhuise in Northmead, Benoni gekoop waar sy eggenote, tant Alice, hom ook later ontval het. Die laaste jare van sy lewe het hy nie meer gespeel nie omdat sy vrou daarteen gekant was. Hulle het nooit enige kinders gehad nie. 'n Paar jaar na haar dood, is hy weer getroud maar is kort daarna op Brits, waar hy toe gewoon het, aan 'n hartaanval oorlede. Hy was toe so ongeveer agt en sestig jaar oud. Hy is ook daar op Brits ter ruste gelê.

Koos het sy bes gedoen en na heelwat pogings, daarin geslaag om, 'n paar fotos in die hande te kry. Ongelukkig is die fotos oud en dof maar ons is nogtans baie bly om dit te hê vir bewaring.

'n Mens kan darem immers 'n idee kry hoe hy en Henry gelyk het. Koos, ons salueer jou vir jou wonder like bydrae! Koos se oë vonkel as hy jou vertel hoe Oom Pietie horn kitaar leer speel het. Dit was voorwaar 'n ondervinding wat 'n ware Boer altyd sal bybly!

Henry Rex was ook 'n goeie musikant wat, behalwe die kitaar, ook banjo, klavier en konsertina kon speel. Met Koos se hulp het ek meneer J. Breval van Kloof, Durban,
opgespoor. George was 'n oom van horn en hy het my vertel dat George 'n weeskind was wat in die Nazareth Home, in Johannesburg, grootgeword het. Hy was baie musikaal en het homself leer speel. Hy was later so goed dat hy musiek kon lees en skryf en het toe ook musiekles gegee. Hy het pragtig met die orkes gekombineer en hulle het 'n uitmuntende eenheid gevorm as 'n goeie voorbeeld van egte tradisionele boeremusiek.

Wanneer 'n mens na hulle musiek luister, kom jy dadelik tot die gevolgtrekking dat die ander orkeste ook van hulle nommers gespeel het, maar net ander name daarvoor gebruik het. Dit was moontlik tradisionele nommers en 'n mens sal waarskynlik nooit seker weet wie die regte of oorspronklike, komponis was nie. Meneer Breval het ons ook meegedeel dat George nooit getroud is nie. Hy het gepoog om 'n foto van hom in die hande te kry, maar kon nie daarin slaag nie.

Hierdie orkes het vir ons die volgende pragtige plate nagelaat:

Die Môrester polka
Die Lekkerdraai wals

His Master's Voice GX 1
Seleksies van polkas
Hoekom verlaat jy my? - wals
His Master's Voice GX 2
Moenie aan my vat nie - settees
Die Droom-wals
His Master's Voice GX 3
Die Springbok-polka
Kruiwa Stoot-settees
His Master's Voice GX 4
Die Bolandse Nooi-polka
Kotteljons-settees
His Master's Voice GX 9
Lieflike Sannie-wals
Die Springkane en die droogte-polka
His Master's Voice GX15
Seleksies van ou walse
Grieta, jou liewe ding-settees
His Master's Voice GX 22
Jy maak my hart so seer-wals
Koekoe my hartjie-settees
His Master's Voice GX 27
Druk my aan jou hart-wals
Gelyk stryk-polka
His Master's Voice GX 34
Hou my hande Sussie-wals
Dis julle wat die reën bring-polka
His Master's Voice GX 41
Trap my trippel-settees
Ek hou my Iyf soos 'n ou fisant-polka
His Master's Voice GX 47
Tant Koba Bo-settees
Lenie my ding-wals
His Master's Voice GX 53

 

Die laaste plaat is nooit in Suid-Afrika vrygestel nie. Kyk asseblief die hoofstuk oor die Vier Hugenote vir nadere inligting oor hierdie plaat.